Kuns stories | Visse | Dit is volbring

Kom ek vertel julle van my visse. Ek wou al so lank die storie van my visse deel, maar as ek dit in woorde probeer sit, kom dit so kort en ek kry dit nie uit nie. Ek dink ek is nou gereed om dit weer ‘n probeer te gee. In die begin van 2025 vra ‘n baie oulike tannie vir ‘n skildery van visse, helder uitspattige kleure is oral oor al die inspirasie fotos, soveel soos dit so buite my styl en smaak is, is ek absoluut mal daaroor en begin dadelik met sketse en toetslopies, dit kom so maklik, so natuurlik, en dis so mooi vir my, dis so mooi vir haar! Soos wat ek verf kan ek nie anders as om te dink aan Jesus se wonderwerk waar hy die vissies en die broodjies vermeerder het sodat 5000 mense kan eet. Hy praat met my oor Sy voorsiening en oormaat en hoe Hy so trots is op hierdie paartjie en hulle geloofstappe en dat Hy vir hulle voorsien in oorvloed. So ek noem die skilderye to “Abundance” en “Provision”. Dit is vir hulle. Op dieselfde tyd is dit in my onderbewussyn my smeekbede ook. Ek het sopas bedank, en al kom ons so net-net uit/ net-net nie, kom vra ek die Here om dit ook vir ons te doen. Terwyl ek en my man oor my visse en die helder kleure van hulle gesels, stop hy my en se “Jy weet hulle lyk nie rerig so nie, hulle wange is nie rerig so pienk nie, dis bloed wat uitsyfer deur hulle kieue nadat hulle dood is”. (Ek is vir ‘n oomblik geskok, die idee dat ek eintlik ‘vars’ dooie visse verf bietjie minder aanloklik). Vir een of ander rede maak gedagte my so bietjie lam/ ongemaklik, in my hart/gees. Eks so bietjie teleurgesteld dat hy my gese het. Dit was so mooi vir my, en nou wat? ‘N ander vriendin, sien toe die visse en wil ook een hê, die keer met die 5 brode by, en ek ervaar die Here sê ek gaan visse verf tot ek dit snap. Hoe langer hierdie storie van die brode en die visse deur my hart maal, hoe meer begin Hy daardeur praat.

  1. ‘N bereidwilligheid om te GEE, die storie begin deur ‘n klein seuntjie wat bereid is om sy middagete op te gee, om niks daarvan te kry nie. Om iets te gehad het maar kies om alles weg te gee.

  2. Dan doen die Here hierdie ongelooflike wonderwerk en vermenigvuldig die kos genoeg vir 5000+ mense, maar hiers die vangplek - dit was middagete vir 5000 mense, ja, maar elke mense het net EEN middagete gekry, die aand en volgende dag was weer normaal. En ek weet nie of ek die enigste een is nie, maar dis so maklik om te dink, “Hy kan dit vir my ook doen, ek moet net my 5 brode en 2 visse bring” onderbewustelik met die verwagting dat hy my bankrekening gaan kom vol maak met 5000 ‘brode’. NEE, Hy voorsien GENOEG (soms netnet genoeg) op die REGTE tyd.

  3. Soos wat ek sit met die gedagte van “GENOEG”, maal die volgende deur my kop, “Hy is genoeg”, “Wat Hy vir ons op die kruis gedoen het is GENOEG” En ek besef “GENOEG” is “GENOEG”. Genoeg is OORVLOED. Ons het genoeg, en hy nooi ons uit na ‘CONTENTMENT’/ tevredenheid in Hom. 

  4. Ek werk toe aan my volgende visse en soos wat ek die warmer rooie, pienke en oranje’s begin inwerk langs hulle kieue, raak my hart swaar, bloed. Bloed wat praat van Jesus dood. Sy se woorde aan die kruis “IT IS FINISHED” “DIT IS VOLBRING” kom by my op en ek gaan soek die vers weer op. “It is finished. And with that He bowed His head and GAVE up his spirit. “Dit is volbring. Toe het Hy Sy kop voor oor laatsak en sy laaste asem uitgeblaas/gegee” Dis asof ek weer daar is, vir die eerste keer, en voor Hom staan soos wat Hy Sy lewe vir my GEE. (neem ‘n oomblik dat dit weer insink, as dit jou lanklaas tot jou kniëe gedwing het, ons/ ek raak so vinnig ‘familiar’/ gewoond aan hierdie waarheid)

So tussen ‘n klomp trane in ‘n lekker koffie winkel tref dit my en my beste probeerslag om dit te verwoord verander in hierdie gedig.

Dit is volbring

Uitspattige kleure

Dramatiese donkers

‘N belofte van vrede voorsiening

‘N uitnodiging om te gee

My laaste brode en visse

Sy laaste asem

“Dit is volbring”

Hy is genoeg.

En genoeg,

Genoeg is oorvloed.

Ek het gedink ek is klaar met die visse, maar ek dink daar gaan moontlik nog ‘n paar kom! En ek bid dat met elke vis wat ek verf hierdie waarheid dieper en dieper op my hart ingekerf sal word.


Back to blog