’n Liefdevolle hand, ’n sagte aanhuts.

My kunsreis het 'n lang oploop van kleins af, die afgelope 2 jaar het ek baie sterk gevoel ek moet meer verf, maar net nie daarby uitgekom nie. Die laaste nudge was eintlik 'n baie diep seer. Ek het nie eintlik baie woorde oor die eerste groen stuk nie, behalwe dat ek dit geverf het terwyl ek nog in die diepste trenches was van gesond word. Ek het gestoei met die Here, omdat Hy iets toegelaat het wat ek glad nie kon verstaan of van sin maak nie. Op die ou end het ek oorgegee, want ek het net nêrens anders gehad te gaan nie, ultimately is Hy steeds die enigste een wat my kan troos, al laat hy toe dat ek seer kry. Die enigste plek waar ek hierdie troos van Hom kon ervaar was met my verfkwas in die hand. ’n Groot stap van oorgee saam met ’n groot stap van gehoorsaamheid.

Ek leef nou bietjie anders, ek het geleer die goeie nuus is NIE dat lewe altyd maklik en mooi gaan wees nie, maar die goeie nuus is dat ek ewigheid saam met Hom gaan wees. Tot dan gaan die lewe 'n mengelmoes wees van die MOOISTE MOOI, en moontlik diepste seer. Ek dink ek is nou ok daarmee, na 'n jaar se stoei.

Ek staan nou aan die anderkant van die stoei jaar, en ek kan met ’n baie dankbare hart seê, ek is weer gesond. Ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Ek is meer lief as ooit. My vertroue in hHom is nou soveel meer, asof ek nou verseker weet daar is niks wat my van Hom kan skei nie. Selfs al gaan ek weer deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want Hy is by my. Hy is altyd aan my kant. In Sy hande is ek veilig. Die goeie nuus is nogsteeds dat ek Syne is - veraltyd.

Maar vir jou jubel en juig ek, want Hy is getrou en die seisoen waarin ek myself bevind is een van deure wat oopvlieg, gebede wat verhoor word soos ek nog nooit ervaar het nie. Hy laat my by 'n feesmaal aansit en oorlaai met hartlikheid. Sy goedheid en liefde hou my elke dag vas.

In die oorwinning, in die vryheid, met so baie dankbaarheid verf ek nou nog paar ‘Groenes’. Elke een ’n getuienis! Die dag van my eerste uitstalling, het ’n vriendin van my hierdie gedig vir my geskryf:

Wanneer God sy hand op jou rug sit

en jou saggies aanhuts om te spring.

Daardie 'leap'is wraggies hier.

en dis anders as wat jy verwag het

want jy voel naby

jy voel kalm.

Onder al die opwinding en die wonder

weet jy

jy is presies waar jy moet wees.

-Caro May | @digteby_gedigte
Back to blog